Nuclear Medicine Seminars

Wednesday, February 22, 2012 6:27:50 PM
The gold standard technique for measuring gastric emptying is scintigraphy using radiolabeled test meals. Recently, a standardized radiolabeled solid meal has been proposed and adopted by many centers. There is still a need for alternative meals,...
Page 1 of 9 1 2 3 4 5 6 7 8 9 > >> 

 AANHEF EN WOORDOMSKRYWING

P.1 In die Grondwet en in die Regulasies, tensy uit die inhoud of samehang anders blyk, sal die onderstaande woorde en uitdrukkinge die volgende betekenis hê:

(a) Woorde wat die manlike geslag aandui, sal ook die vroulike beteken; en woorde wat die enkelvoud aandui, sal insgelyks die meervoud beteken en omgekeerd.

(b) Die uitdrukking "Vereniging" sal verwys na die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kerngeneeskunde.

(c) Die woord "lid" dui op enige lid van die Vereniging soos omskrywe in artikel 3 van die Grondwet.

(d) Die woord "Raad" sal die Raad van die Vereniging aandui soos saamgestel kragtens die bepalings van artikel 4 van die Grondwet.

(e) Die uitdrukking "Dagbestuur" beteken die Uitvoerende Komitee soos omskryf in sub-artikel 4.4 van die Grondwet.

(f) Die uitdrukking "Ampsdraer" dui op 'n bestuurslid van die Uitvoerende Komitee soos omskryf in sub-artikel 4.4 van die Grondwet.

P.2 Die notasie van die artikels in hierdie dokument word as volg aangedui:

(a) Aanhef en woordomskrywing - die hoofletter P gevolg deur 'n syfer en 'n kleinletter in hakies vanaf
   P.1 (a) tot P.3.

(b) Grondwet - suiwer desimale getalle 1.1 tot 9.2.

(c) Regulasies - 'n enkele hoofletter gevolg deur 'n desimale getal vanaf A.1 tot I.2.2.

P.3 Wysiginge aan die Grondwet kan alleenlik geskied deur 'n Algemene Vergadering van die Vereniging; die Regulasies daarenteen, kan gewysig word deur die Raad.

 

GRONDWET

 

1. NAAM

1.1 Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kerngeneeskunde (South African Society of Nuclear Medicine)

 

2. DOELSTELLINGS

2.1 Om 'n Suid-Afrikaanse forum daar te stel vir die medewerking van geneeskundiges, wetenskaplikes, radiograwe en ander professionele persone wat 'n gemeenskaplike belangstelling op die gebied van Kerngeneeskunde het.

2.2 Om die gebruik en ontwikkeling van Kerngeneeskunde te bevorder deur die versameling en verspreiding van wetenskaplike en tegniese inligting deur middel van samekomste, kursusse en publikasies.

2.3 Om die status van Kerngeneeskunde in Suid-Afrika te verbeter deur skakeling met nasionale en internasionale organisasies wat 'n gemeenskaplike belang het.

 

3. LIDMAATSKAP

3.1 Lidmaatskap is oop vir alle persone wat betrokke is by Kerngeneeskunde; daar sal twee klasse van lidmaatskap wees naamlik stemgeregtigde lidmaatskap en nie-stemgeregtigde lidmaatskap.

3.2 Stemgeregtigde lidmaatskap

Stemgeregtigde lidmaatskap sal uit die volgende range bestaan:

3.2.1 Ere-lede

Ere-lidmaatskap sal toegesê word aan persone wat uitstaande diens aan die Vereniging gelewer het en/of besondere bydraes gemaak het tot die Kerngeneeskunde in S.A. in ooreenstemming met die doelstellings van die Vereniging.

3.2.2 Lede

Individuele lidmaatskap sal toegesê word aan persone van eerbare karakter wat belangstel om die doelstellings van die Vereniging na te streef en wat -


i) belang het by en die bekwaamheid besit vir die diagnostiese of terapeutiese gebruik van radionukliede, of

ii) radionukliede gebruik vir medies-wetenskaplike doeleindes, of

iii) gemoeid is met die vervaardiging van radionukliede vir mediese gebruik, of

iv) Kerngeneeskunde of enige verwante wetenskap onderrig, of

v) aangeleenthede van die Vereniging bevorder het.

Afgetrede lidmaatskap sal toegesê word aan lede ouer as 65 jaar van eerbare karakter.

3.2.4 Institusionele lede

Institusionele lidmaatskap sal toegesê word aan organisasies wat aktief die belange van Kerngeneeskunde bevorder.

3.3 Nie-stemgeregtigde lidmaatskap

Nie-stemgeregtigde lidmaatskap sal uit die volgende range bestaan:

3.3.1 Studente-lede

Studente lidmaatskap sal toegesê word aan individue wat bona fide studente is en wat 'n aktiewe belangstelling in Kerngeneeskunde toon.

3.4 Verdere klasse of range van lidmaatskap kan ingestel word op voorstel van 'n algemene vergadering van die Vereniging.

 

4. BESTUUR

 

4.1 Onderworpe aan die bepalings van die Grondwet en in ooreenstemming met die Regulasies sal die administrasie en beheer van die sake van die Vereniging berus by 'n Raad wie se lede aan bewind sal bly totdat hulle opvolgers verkies is.

4.2 Die Raad
Die Raad sal bestaan uit die volgende:

4.2.1 Die pas-uitgetrede President

4.2.2 Die President

4.2.3 Die Vise-President

4.2.4 Die Ere-Sekretaris/Tesourier

4.2.5 Drie gewone lede soos volg:

4.2.5.1 'n Geneesheer wat Kerngeneeskunde praktiseer
4.2.5.2 'n Wetenskaplike betrokke by Kerngeneeskunde; en
4.2.5.3 'n Kerngeneeskunde radiograaf

4.2.6 Gekoöpteerde lede

4.3 Verkiesing van die Raad

4.3.1 Verkose lede van die Raad

4.3.1.1 Die lede van die Raad sal verkies word uit lede van die Vereniging by wyse van algemene stemming by die tweejaarlikse algemene vergadering van die Vereniging, maar geen lid kan as President verkies word tensy hy ten minste twee jaar op die Raad gedien het nie.
4.3.1.2 Nominasies vir die verkiesing tot die Raad sal geskied deur voorstelle, gesekondeer deur twee lede en vergesel van die aanvaarding van die nominasie deur die genomineerde.

4.3.1.3 Slegs opbetaalde lede soos gedefinieer in artikel 3.2 hierbo en ere-lede is stemgeregtig.

4.3.1.4 In geval waar twee of meer persone 'n gelyke aantal stemme gekry het, maar almal nie as verkose lede verklaar kan word nie, sal die Vergadering die uitslag bepaal deur 'n gewone meerderheid van stemme.

4.3.1.5 Enige vakature op die Raad as gevolg van dood, bedanking, ontslag of ontrouheid van enige lid, sal gevul word deur 'n benoemde lid van die Raad, wat die res van die dienstermyn van die lid wat hy vervang, sal uitdien.

4.3.1.6 Alle gewone lede van die Raad sal in die reël 'n tydperk van twee jaar diens doen. Hulle sal herkiesbaar wees, maar die President mag alleenlik een opeenvolgende termyn as President dien.

4.3.2 Gekoöpteerde lede van die Raad.

4.3.2.1 Die Raad het die mag om 'n maksimum van twee bykomende lede uit die geledere van indivuduele en ere-lede te koöpteer.
4.3.2.2 Gekoöpteerde lede het nie stemreg in die Raad nie.
4.3.2.3 Gekoöpteerde lede mag in die Raad dien, indien hulle so verkies sou word.
4.3.2.4 Gekoöpteerde lede sal vanself uittree by die tweejaarlikse algemene vergadering wat volg na hulle koöptering.
4.3.2.5 Indien die Redakteur van die Nuusbrief van die Vereniging nie 'n verkose lid van die Raad is nie, moet hy gekoöpteer word.

4.4 Die Dagbestuur van die Raad

Die Dagbestuur sal bestaan uit die volgende ampsdraers:

4.4.1 Die President
4.4.2 Die Vise-President
4.4.3 Die Ere-Sekretaris/Tesourier.

4.5 Regulasies

4.5.1 Die Raad mag regulasies opstel vir die administrasie en beheer oor die sake van die Vereniging wat in ooreenstemming met die Grondwet is.

4.5.2 Sodanige regulasies kan te eniger tyd deur die Raad gewysig word, hetsy by wyse van toevoeging, herroeping of verandering, mits kennis van sodanige voorgenome verandering geskied in die voorafgaande kennisgewing van die betrokke Raadsvergadering en verder op voorwaarde dat nie minder as twee-derdes van die aanwesige stemgeregtigde lede van die Raad ten gunste van sodanige verandering stem.

4.5.3 Alle lede sal binne vier weke van enige veranderinge aan die regulasies, wat deur die Raad aangebring is, in kennis gestel word.

 

5. FINANSIES

5.1 Intreegeld en/of jaarlikse ledegeld sal deur die Raad bepaal word.

5.2 Die finansiële sake van die Vereniging sal onder die beheer van die Raad wees en deur die Ere-Sekretaris/Tesourier behartig word.

5.3 Alle onttrekkings uit die bankrekening vereis enige twee van drie handtekeninge van Raadslede wat vir die doel deur die Raad aangestel is.
5.4 Die Raad het die mag om geld te belê na goeddunke.

5.5 Die Raad het die mag om geld te bestee na goeddunke, maar in ooreenstemming met die doelstellings van die Vereniging.

5.6 Die Vereniging se rekeninge sal soos op 30 Junie elke jaar afgesluit word en sal onderworpe wees aan 'n jaarlikse oudit deur gemagtigde ouditeurs, wat deur die Raad aangestel is.

5.7 Die finansiële state van die Vereniging van die vorige twee jaar sal by elke Tweejaarlikse Algemene Vergadering vir goedkeuring voorgelê word.

5.8 Die Raad word veronderstel om as agent van die Vereniging op te tree ten opsigte van die administrasie van die fondse van die Vereniging en sy lede sal nie persoonlik aanspreeklik wees vir die skulde van die Vereniging nie, behalwe as hulle te kwader trou opgetree het of die magte wat aan hulle verleen is deur die Grondwet oorskry het.

5.9 Die verpligtinge van die lede van die Vereniging is beperk tot onbetaalde fooie en ledegelde.

 

6. ALGEMENE VERGADERINGE

6.1 'n Algemene vergadering, bekend as die Tweejaarlikse Algemene Vergadering, sal op 'n plek en datum waarop die Raad besluit, gehou word.

6.2 Spesiale Algemene Vergaderinge.

6.2.1 By 'n Spesiale Algemene Vergadering sal alleenlik die sake, gemeld in die kennisgewing wat die vergadering byeenroep, behandel word.

6.2.2 Die Raad kan te eniger tyd 'n Spesiale Algemene Vergadering belê.

6.2.3 Die Raad sal 'n Spesiale Algemene Vergadering belê so gou doenlik na ontvangs van 'n skriftelike aansoek geteken deur ten minste 10 lede, op voorwaarde dat so 'n aansoek die sake waarvoor die vergadering nodig is, in besonderhede vermeld.

6.3 Slegs opbetaalde lede sal geregtig wees om te stem by enige van die algemene vergaderinge van die Vereniging.

6.4 Behoorlik getekende posstemme en stemme by volmag sal by alle Algemene Vergaderinge toegelaat word.

6.5 Die kennisgewings wat alle Algemene Vergaderinge byeenroep, sal ten minste vier weke voor die vasgestelde datum van sodanige vergadering aan lede na hulle geregistreerde adresse gestuur word.

 

7. WYSIGINGE AAN DIE GRONDWET

 

7.1 Wysiginge aan die Grondwet kan alleenlik by 'n Tweejaarlikse Algemene Vergadering of by 'n Spesiale Algemene Vergadering wat vir dié doel belê is, aangebring word.

7.2 Voorgestelde wysiginge kan voorgelê word deur:

7.2.1 Die Raad

7.2.2 Enige drie lede; sodanige voorlegging moet die Ere-sekretaris/Tesourier ten minste ses weke voor die betrokke vergadering bereik.

7.3 Die Ere-sekretaris/tesourier sal 'n omsendbrief aangaande die voorgestelde wysiginge, tesame met die kennisgewing van die vergadering aan al die lede stuur.

7.4 Die vergadering kan enige voorgestelde wysiginge aanvaar, kan dit aanvaar nadat dit geamendeer is, of kan dit verwerp met ten minste twee derdes van die stemtotaal van die aanwesige lede, posstemme en stemme by volmag.
7.5 'n Voorgestelde wysiging wat aanvaar word, is onmiddellik van krag en die Ere-sekretaris/tesourier sal alle lede binne vier weke van die wysiginge in kennis stel.

 

8. INTERPRETASIE 

In die geval van enige dubbelsinnigheid oor die betekenis van enige deel van die Grondwet en/of Regulasies, sal die interpretasie van die Raad bindend wees.

 

9. ONTBINDING

9.1 Die Raad sal die mag hê om die Vereniging te ontbind op voorwaarde dat:

9.1.1 Alle lede ten minste twee maande voor die voorgenome datum van ontbinding kennis per omsendbrief ontvang aangaande sodanige voorneme en gepaste vorms vir posstemme en stemme by volmag ingesluit word.

9.1.2 Alle opbetaalde lede geregtig is om te stem.

9.1.3 Ten minste twee derdes van die uitgebragte stemme ten gunste van ontbinding is.

9.2 In die geval van ontbinding sal die Raad verantwoordelik wees om die bates van die Vereniging oor te dra aan 'n organisasie of organisasies met soortgelyke werksaamhede as die Vereniging.